Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Stad Johannesburg gaan in Augustus in Vrouemaand erkenning gee aan die bydrae van vroue in die stryd vir maatskaplik-ekonomiese vryheid oor die land heen. Die stad gaan regdeur die maand ‘n reeks geleenthede en bedrywighede aanbied wat geskep is om vroue se prestasies te vier en bewustheid te skep oor gelykheid. Die stad se woordvoerder, Virgil James, sê hulle glo wanneer vroue bemagtig word, word die mensdom ook bemagtig:
# Die Nasionale Kunstefees vra kunstenaars en vervaardigers om aansoek te doen vir die 2025 Saamgestelde Program. Die fees, wat in Makhanda in die Oos-Kaap gehou word, vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar. Die uitvoerende hoof, Monica Newton, sê ‘n begroting word verskaf vir die skepping, inoefening en aanbieding van saamgestelde werke op die fees en word gewoonlik in samewerking met ander kunstenaars geskep:
# Die Wentworth kuns- en kultuurorganisasie in Durban se Dansbewegingprogram het sy 11de jaarlikse fees in die Playhouse-teater aangebied. Dit het baanbreker-vertonings deur gestremde dansers ingesluit. Die fees, onder leiding van die choreograwe Sufyaan Moosa, Tshediso Kabulu en Jarryd Watson, het gewys dat die program kunstalent onder die jeug bevorder, insluitend dié met gestremdhede. Die organisasie bied gratis kunsonderrig aan by minderbevoorregte skole en lei verskeie kuns-programme in landelike gebiede.
# Die pa en seun-span Eugene en Dan Levy, onderhandel volgens berigte om die 15de van volgende maand die 76ste Emmy-toekennings aan te bied in die Peacock-teater in Los Angeles. Hulle het voorheen al toekenningseremonies saam aangebied, onder meer 2020 se SAG-toekennings, en was een keer gasaanbieders van die Ellen Show. Die Levy’s is veral bekend as skeppers van die komediereeks Schitt’s Creek, wat 15 Emmy-benoemings ontvang het vir sy laaste seisoen in 2020. Shogun van FX het ‘n rekord van 25-benoemings in vanjaar se Emmys.
# En ten slotte: Die luukse Italiaanse handelsmerk, Dolce & Gabbana, het ‘n parfuum vir honde geskep. Fefé is vernoem na Domenico Dolce, een helfte van die beroemde ontwerp-duo, se hond. Die bottel het ʼn vergulde pootafdruk van 24-karaat en kos meer as twee-duisend-rand. Dit sluit ook ʼn D&G-halsband en naamplaatjie in. Die maatskappy sê Fefé is getoets en deur veeartse goedgekeur. Hy sê die parfuum skep ʼn weelderige gevoel en maak elke stappie met jou hond ʼn welriekende en modieuse geleentheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….