Ekominuut 13:30
BULLETIN 17 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Stad Johannesburg bied van môre tot Vrydag die Afrika-forum vir Stedelike Woude in Bryanston aan met die tema: Groen Horisonne: Vorm Afrika-stede se toekomstige herstelvermoë deur stedelike woude. Die geleentheid sal die belangrike rol beklemtoon wat stedelike woude speel om ernstige uitdagings aan te pak. Besprekings sal drie temas dek: Hoe om Afrika-stede klimaat-weerstandig te maak, billike toegang, gesondheid en welstand, en hoe om stedelike woude te bevorder. Die adjunkminister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Bernice Swarts, sal die openingsrede lewer.
# Die belkraanvoël – die grootste, seldsaamste en mees bedreigde van Suid-Afrika se ses kraanvoëlspesies – is afgegradeer van kritiek bedreigd tot bedreigd. Belkraanvoëls, wat in die winter broei en afhanklik is van vleilande, is in 2015 as ‘n kritiek-bedreigde spesie in sekere gebiede gelys toe slegs 267 voëls tydens ‘n lugopname in KwaZulu-Natal aangeteken is. Damian Walters van die Afrika-kraanvoëlbewaringsprogram sê die afgradering beklemtoon die noodsaaklikheid van samewerking met die beskerming van ‘n spesie en sy gras- en vleiland-habitat waarvan almal afhanklik is.
# En ten slotte: Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, sê haar departement sal sorg dat die verhoging van die Clanwilliam-dam se wal in die Olifantsrivier in die Wes-Kaap teen 5,7-miljard-rand, versnel word. Die projek in die Cederberg-munisipaliteit sal na verwagting in 2028 voltooi word. Majodina sê die projek sal nie net die veiligheid van die dam verbeter nie, maar ook ekonomiese byvoordele vir die omgewing bring:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….