Ekominuut 13:30
BULLETIN 11 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# In die agt jaar tot einde 2023 is twee-duisend-444 dooie voëls van meer as 200 spesies op 33 windplase in Suid-Afrika aangemeld. Dit is volgens ‘n verslag van BirdLife South Africa. Die land het tans een-duisend-421 turbines wat sowat drie-duisend-490-megawatt krag opwek en dit sal na verwagting teen 2030 toeneem tot 17-duisend-700 megawatt. BirdLife sê volgens wet moet alle windplase omgewingsbestuursprogramme hê wat insluit dat voëlvrektes wat deur turbines veroorsaak word, gemonitor word. Hy voeg by dat baie windplase dit egter nie doen nie.
# Die DA verwelkom die afname in renosterstroping, maar waarsku dat volgehoue optrede van kardinale belang is. Suid-Afrika het verlede jaar 420 renosters verloor, minder as die 499 in 2023. Andrew de Blocq van die DA sê hoewel daar vordering is, is daar steeds uitdagings soos swak parksekerheid, personeeltekorte en interne samespanning. Hy vra wêreldwye samewerking om wildsindikate af te takel en die vraag na renosterhoring te beperk:
# En ʼn ondersoek is aan die gang nadat ʼn olietenkskip en ʼn vragskip in die Noordsee langs die Britse kus gebots en ʼn reusebrand uitgebreek het. Ses-en-dertig bemanningslede is gered en een persoon is hospitaal toe geneem. Een bemanningslid word nog vermis, maar die kuswag sê die soektog is afgelas. Die betrokke vaartuie is die Amerikaans-geregistreerde Stena Immaculate, wat brandstof namens die Amerikaanse Weermag vervoer het, en die Solong onder die Portugese vlag wat 15 vraghouers met die chemiese stof, natriumsianied, vervoer het.
Bly ingeskakel vir meer nuus…..