Ekominuut 13:30
BULLETIN 7 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Vier-honderd-en-20 renosters is verlede jaar in Suid-Afrika gestroop. Hiervan is 320 op staatseiendom doodgemaak en 100 in privaat parke, reservate of op plase. Dit is 79 minder as die 499 in 2023. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê onwettige handel in natuurlewe bly ‘n wêreldwye probleem wat ernstige, globale samewerking verg om die misdaadnetwerke te ontwrig:
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê Suid-Afrika en ander internasionale vennote sal die gevolge van Amerika se onttrekking aan die Billike Energie-oordragvennootskap evalueer. President Donald Trump het ʼn uitvoerende bevel onderteken wat lidmaatskap opsê van die groep internasionale vennote vir billike energieoordrag, wat Suid-Afrika, Indonesië en Viëtnam insluit, asook verwante finansiële beloftes. Die ooreenkoms help die lande om met steenkool weg te doen. Die departement sê Suid-Afrika bly verbind tot die instelling van internasionale ooreenkomste, insluitend dié wat op die geskiedkundige Paryse konferensie oor klimaatsverandering geneem is.
# En ten slotte: Die Vereniging van Water- en Sanitasie-instellings in Suid-Afrika vra strenger maatreëls om waterbesoedeling te bekamp. Die vereniging sê hy ondersteun die Forum teen Waterbesoedeling en doen ‘n beroep op munisipaliteite, nywerhede en gemeenskappe om aan wetgewing vir die verwydering van afvalwater te voldoen. Hy sê swak watergehalte bedreig gesondheid, voedselsekerheid en ekonomiese groei. Hy vra dat beleid belyn en streng toegepas sal word en dat die privaat sektor en die staat saam waterbronne moet beskerm en skoon waterbronne verseker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….