Ekominuut 13:30
BULLETIN 4 April 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Stad Kaapstad sê sy Belegging in Hoop-begroting vir 2025/2026 stel die verbetering van vleilande se watergehalte voorop, asook die kuslyn se versterking teen die uitwerking van klimaatsverandering. Die metro se Ruimtelike Beplannings- en Omgewingsdirektoraat is verantwoordelik vir ‘n kuslyn van 307 kilometer asook die bewaring van die unieke en wêreldbekende biodiversiteit wat 21 natuurreservate en vleilande insluit. Die onderburgemeester, Eddie Andrews, sê die Belegging in Hoop-begroting neem die gevolge van klimaatsverandering en bevolkingsgroei in ag:
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing word geloof vir sy doeltreffende optrede na die onlangse Pretoriase Hooggeregshofbevel, deur permitvoorwaardes uit te reik wat hersiene geslote visvanggebiede afdwing om pikkewyne te beskerm. Die hof het ‘n bevel uitgereik wat gebiede rondom Afrika-pikkewyne se broeikolonies vir die volgende tien jaar teen die vang van sardien, ansjovis en rooioog-haring afsper. BirdLife South Africa sê die departement het vinnig opgetree om die veranderinge aan die visvangpermitte te implementeer om die hersiene sluitings te weerspieël.
# En ten slotte, die Europese Unie sê die Natuurherstelregulasie is die eerste omvattende wet van sy soort wat oor vastelande geld. Dit wil ekostelsels, natuurlike omgewings en spesies in die EU se land- en seegebiede herstel. Hierdie maatreëls behoort teen 2030 minstens 20-persent van die EU se land- en seegebiede te dek en sal teen 2050 alle ekostelsels herstel. Meer as 80-persent van Europa se natuurlike omgewings is in ‘n swak toestand. Die EU sê hy is daartoe verbind om sy doelwitte vir klimaatsversagting en -aanpassing te bereik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….