Ekominuut 13:30
BULLETIN 25 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Polyco, in vennootskap met Pick ‘n Pay-skoolklub, het opvoedkundige plakkate wat plastiekherwinning bevorder aan twee-duisend-675 laerskole reg oor Suid-Afrika geskenk. Die projek is deel van Polyco se MillionPlus-program, wat meer as twee-miljoen leerders en onderwysers ondersteun. Elke skool het sedert die begin van die jaar interaktiewe almanakke en materiaal ontvang om herwinning en omgewingsbewustheid te bevorder. Die twee organisasies sê hierdie projek wil van ‘n jong ouderdom af volhoubaarheid en omgewingsbewaring aanmoedig.
# Die Universiteit van Pretoria sê talle onlangse projekte op sy Hatfield-kampus herbevestig sy verbintenis tot optimale stormwaterbestuur, die oes van reënwater en die vermindering van sy omgewingsvoetspoor. Die instelling het onlangs ‘n parkeergebied-reënwateropvangstelsel ingestel wat die opvang van reënwater van ‘n nuwe liggewig-dak moontlik maak en skadu aan motors in spesifieke kampusparkeerplekke verskaf. Die universiteit sê die water wat opgevang word sal help om die Manie van der Schijff-botaniese tuine te besproei wat sowat 3,5-hektaar van die kampus beslaan.
# En ten slotte: Kenia het hom by meer as 60 lande aangesluit wat ‘n koolstofheffing op die skeepvaartbedryf voorstaan, wat klimaatsaanpassing en -versagting vir kwesbare lande sal befonds. Regerings is op die punt om ‘n ooreenkoms oor ‘n koolstofheffing op skeepsvrylatings te bereik en ‘n besluit word volgende maand verwag. Skeepvaart verteenwoordig drie-persent van die wêreld se kweekhuisgasvrystellings. Kenia se spesiale afgevaardigde vir Klimaatsverandering, Ali Mohamed, sê beleggings in zero-vrystellings-vaartuie, hernubare brandstowwe en veerkragtige hawe-infrastruktuur kan verseker dat ontwikkelende land in ‘n lae koolstof-ekonomie kan floreer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….