Ekominuut 13:30
BULLETIN 3 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Suid-Afrika se eerste ietermagog-reddingsentrum is in die Lapalala-wildernisreservaat in Limpopo geopen. Die Pangolarium, wat deur die Afrika Ietermagog-werksgroep bekendgestel is, bied aan ietermagogs wat van onwettige handelaars gered word, kans om te genees en weer in die natuur vrygelaat te word. Hulle word ook deur veeartse versorg en gerehabiliteer. Die Pangolarium bevorder bewaring en veiligheid vir hierdie bedreigde diere wat die soogdiere is waarmee wêreldwyd die meeste onwettig handel gedryf word.
# Vandag is die Verenigde Nasies se Wêreld-natuurlewedag, ‘n oproep vir die beskerming van bedreigde spesies en natuuromgewings. Vanjaar se tema is Natuurlewebewaringfinansies: ‘n Belegging in Mense en die Planeet. Dit beklemtoon die kritieke behoefte aan vernuwende finansiële oplossings vir die steun van bewaringsprojekte. Daar word beraam dat meer as ‘n miljoen spesies nou bedreig word deur uitsterwing te midde van die toenemende drieledige planetêre krisis. Die VN sê vandag is ook ‘n geleentheid om die stryd teen natuurlewemisdaad en die mens se invloed op die verminding in spesies op te skerp.
# En laastens, ‘n noodtoestand is in Noord- en Suid-Carolina in Amerika afgekondig om meer as 100 veldbrande te midde van droë toestande en sterk wind te bestry. Duisende inwoners moes hul huise ontruim terwyl een van die grootste veldbrande in die Carolina-woud naby Myrtle Beach woed. Suid-Carolina se goewerneur, Henry McMaster, sê die noodtoestand sal nooddienswerkers in staat stel om vinnig enige hulpbronne in die hande te kry wat nodig is om die veldbrande te beveg.