Eko-minuut 13:30
Bulletin Inhoud
BULLETIN 9 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Departement van Water en Sanitasie vra die publiek se hulp om die land se vleilande te beskerm en te bewaar. Vleilande speel ‘n belangrike rol om oorstromings te voorkom, skoon water te voorsien, bioverskeidenheid te ondersteun en ontspanningsgebiede te skep. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê een manier waarop die publiek kan bydra, is om besoedeling te verminder deur behoorlike vullisverwydering en nie betrokke te raak by bedrywighede wat waterbronne besoedel nie:
# Die College of Natural Resources and Environment aan die Virginia Tech in die VSA het 49-miljoen rand van dié land se Departement van Buitelandse Sake se afdeling van Internasionale Narkotika en Wetstoepassing verkry om die onwettige handel in natuurlewe in Botswana te bekamp. Dit sal die vestiging van ‘n laboratorium met gevorderde tegnologie in Kasane moontlik maak vir forensiese wetenskap vir natuurlewe. Die laboratorium sal DNS-bewyse verwerk om die ondersoek en vervolging van onwettige handel in natuurlewe te bespoedig. Dit sal ook Botswana se Elite-span versterk wat misdaad rakende natuurlewe bekamp.
# En laastens: Die voormalige hoof van die Verenigde Nasies se Interregeringspaneel vir Klimaatsverandering, Robert Watson, sê aardverwarming wat 1,5-grade Celsius oor ‘n tydperk van ‘n jaar oorskry, is onaanvaarbaar. Data van die Europese Unie se Copernicus-klimaatveranderingsdiens het aan die lig gebring in die tydperk vanaf Februarie verlede jaar tot verlede maand is daar aardverwarming van 1,52-grade Celsius aangeteken. Watson sê dit kan vererger aangesien daar reeds verwoestende vloede, hittegolwe en veldbrande oor die hele wêreld plaasgevind het.