Eko-minuut 13:30
BULLETIN 8 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Voorbereidings word getref vir die Afrika Energie Indaba, wat die kollig sal werp op die deurslaggewende rol van elektriese voertuie in die daarstelling van volhoubare vervoer regdeur Afrika. Die indaba, wat volgende maand by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum plaasvind, sal ‘n Elektriese Voertuigforum bied wat die instelling van EV-oplossings sal probeer bevorder en bespoedig. Besprekings sal fokus op die jongste tegnologie, volhoubare laai-infrastruktuur, die potensiaal vir verminderde koolstofvrystellings in die vervoersektor, en beleid en regulasies in dié sektor.
# Die satelietkommunikasie-maatskappy, Sateliot het met die Trust vir Bedreigde Wildlewe hande gevat om 5G-Internet van Dinge-sensors aan bedreigde aasvoëls regoor Suid-Afrika aan te bring. Dit is gedoen om stropery te verhoed en bedreigde voëls in afgeleë plekke se bewegings te volg. Die onwettige handel in aasvoëlkarkasse het hul getalle uitgedun, met die gevolg dat baie min in hul natuurlike habitat oor is. Alison Janicke van die Trust vir Bedreigde Wildlewe sê Sateliot sal geld en hulpbronne verskaf vir noodsaaklike bewaringspogings.
# En, laastens: Die Britse amateur-fotograaf, Nima Sarikhani, is vanjaar aangewys as die People’s Choice-toekennings se Natuurlewe-fotograaf van die Jaar. Sy wenfoto met die titel, Ice Bed, is van ‘n slapende ysbeer wat opgekrul op ʼn ysberg lê. Dit is by Noorweë se Svalbard-eilandgroep geneem. Die foto is uit ʼn kortlys van 25 foto’s gekies wat uit ongeveer 50-duisend inskrywings saamgestel is. Sarikhani sê hy hoop die foto inspireer hoop dat daar nog tyd is om die klimaatsprobleem wat mense veroorsaak het, op te los.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….