Eko-minuut
BULLETIN 10 Junie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Eskom sê hy verskerp sy fokus op omgewingsprestasie en langtermyn volhoubaarheid. Die kragnutsmaatskappy het tot nou meer as drie-miljard-rand in vrystellingsverminderingsprojekte belê, met 15,6-miljard-rand wat vir die volgende vyf jaar toegeken is. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hulle het noemenswaardige vordering gemaak met die vermindering van stikstofoksied-vrystellings uit hulle kragstasies. Sy sê die nutsmaatskappy se volhoubaarheidstrategie sluit ook waterverbruik, bioverskeidenheid en grondbeskerming in, en netwerk-opgraderings om hernubare energie-insluiting te steun:
# Die Presidensiële Klimaatkommissie waarsku Suid-Afrika loop die gevaar van toenemende risiko’s sonder dringende klimaatoptrede. Die kommissie sê in sy konsep-aanbevelings vir die land se klimaatsteikens temperatuurstygings sal lei tot ‘n vermindering in mielieproduksie en watertekorte, wat voedselbeskikbaarheid sal raak. Suid-Afrika kan teen die einde van die eeu temperatuurstygings van tussen twee en vyf grade Celsius ondervind. Die kommissie sê die geleentheid om op te tree is besig om verby te gaan, en doen ‘n beroep vir spoedige instelling van veerkragtige versagting-strategieë.
# En ten slotte: SANParke sê staproetes wat tans in Tokai en Silwermyn-Oos in Kaapstad gesluit is, word op 1 Julie heropen. Dit sluit die Kalkbaai/St James/Muizenberg-berge en die Steenberg-plato in. Die roetes is gesluit na ‘n brand laat in April ongeveer twee-duisend-800 hektaar plantegroei vernietig het. Charles Phahlane van SANParke sê die Silwermyn-piekniekterrein en staproete rondom die dam, sowel as die rivierwandelpad en ander roetes, sal gesluit bly:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….