Eko-minuut
BULLETIN 5 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Transnet wil energiekoste beheer en vrystellings verminder deur sy energiemengsel met alternatiewe bronne en hernubare energie uit te brei. Dit is volgens die staatsbeheerde Transnet Nasionale Hawe-owerheid. Die owerheid het ‘n versoek gepubliseer vir voorstelle om ʼn sonkragaanleg van drie megawatt by die Oos-Londense hawe in die Oos-Kaap op te rig. Die waarnemende uitvoerende hoof, Phyllis Difeto, sê dis deel van hulle aankoopprogram vir hernubare energie om sowat 100-megawatt krag by al agt Suid-Afrikaanse handelshawens te voorsien.
# Wetenskaplikes het ‘n antieke meer in die ruwe gebergtes in die oostelike Hoogland van Lesotho ontdek wat weens klimaatsverandering verdwyn het. Die eeue-oue meer was langs die Mafadi-spits geleë, op die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho. ‘n Professor van Wits, Jennifer Fitchett, sê die meer se verdwyning benadruk die dringende behoefte vir wetenskaplikes en beleidmakers om waterstelsels noukeurig te monitor, wat noodsaaklik is vir die mens se voortbestaan en natuurlike ekostelsels.
# En ten slotte: Die wêreld se grootste ysberg, bekend as A23a, tol nou al maande lank op een plek net noord van Antarktika. Wetenskaplikes sê die bevrore blok, wat meer as twee keer die grootte is van Groter Londen, is vasgevang bo-op ‘n reuse-draaikolk. Die verskynsel word ‘n Taylor-kolom genoem en dis moontlik A23a sal dalk jare lank vasgevang bly. Dit het reeds in 1986 weggebreek van die Antarktiese kuslyn en was drie dekades lank ‘n statiese eiland. Dit het in 2020 weer begin dryf, maar nou weer vasgeval.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….