Eko-minuut 13:30
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 10 November 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Eskom het amptelik die eerste van sy agt projekte vir batterykrag-opbergingstelsels in bedryf gestel. Dit is deel van die eerste fase van ‘n program wat deur die Wêreldbank befonds word om batterye met ‘n gesamentlike opbergingsvermoë van 199 megawats aan die netwerk te koppel. Die eerste projek is op Eskom se verspreidingsnetwerk in Worcester in die Wes-Kaap en gebruik batterye wat deur Hyosung van Suid-Korea verskaf word. Eskom het intussen die tweede fase waarmee hy nog 144 megawatt van ‘n batterykrag-opbergingstelsel oor vier persele wil voorsien, voorlopig uitgestel omdat hy nog op duidelikheid deur die Nasionale Tesourie wag.
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Ebrahim Patel, het die Ford Motor-maatskappy van Suider-Afrika geloof oor die uitbreiding van sy produksie in die Ford Ranger-program om inprop-hibriede elektriese voertuie in te sluit. Hierdie stap strook met wêreldwye pogings om kweekhuisgas-uitstralings te verminder. Patel verwag voertuigproduksie by die Silverton-aanleg in Pretoria sal in die derde kwartaal van volgende jaar begin. Die voertuie wat daar vervaardig word, sal uitgevoer word na meer as 100 markte wêreldwyd, insluitend die Verenigde Koninkryk en lidlande van die Europese Unie.
# ‘n Ekoloog van Israel se Natuur- en Parke-owerheid gebruik roofvoëls, spesifiek witstert-arende, met GPS-opsporingstoestelle om die Israeliese Weermag te help om liggame te herwin op plekke van die eerste Hamas-aanval. Ohad Hatzofe verduidelik die opsporing van die migrasiepatrone van hierdie arende verskaf deurslaggewende data, wat help om liggame op te spoor en te herwin en afsluiting vir sommige gesinne te bring. Meer as tien-duisend-800 mense, insluitend meer as vier-duisend-400 kinders, is gedood sedert die begin van die konflik op 7 Oktober. Hatzofe sê hy hoop die oorlog sal binnekort eindig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….