Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 April 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Nasionale Raad van Provinsies het die Wetsontwerp op Klimaatsverandering goedgekeur. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Barbara Creecy, beklemtoon dat die wetsontwerp ‘n wettige raamwerk daarstel om bedrywighede wat tot klimaatsverandering bydra, te reguleer. Die wetsontwerp streef na ‘n doeltreffende reaksie oor die regering en die samelewing, om ‘n regverdige oorgang te verseker en groen ekonomie-geleenthede te kan aangryp. Creecy sê die wetsontwerp bevorder gekoördineerde klimaataksies om provinsiale en munisipale forums en duidelike raamwerke vir versagting, aanpassing en befondsing te vestig.
# Die Departement van Minerale Bronne en Energie sê die Konsep-meesterplan vir Gas sit die rol van natuurlike gas in die konteks van die energiebedryf uiteen en verskaf beleidsrigting in Suid-Afrika. Die konsepplan, wat vir openbare kommentaar uitgereik is, beveel aan Suid-Afrika moet op die kort- en medium termyn op die invoer van vloeibare natuurlike gas fokus om aan die behoeftes te voorsien. Die departement sê die konsepplan erken ook natuurlike gas se kritieke rol in die land se ekonomie.
# Die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, sê die 30-miljoen rand wat die metro jaarliks bestee om onwettige rommelstortingsterreine op te ruim, kan vir die verbetering van ander dienste gebruik word. Hy het saam met ander rolspelers met die Tswelopele-skoonmaakveldtog in Pretoria-Noord gehelp om oop ruimtes in Wyk 2 op te ruim. Altesaam een-duisend-500 sakke rommel is opgetel. Brink sê mense moet saamspan om rommelstrooiery en onwettige rommelstorting vas te vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….