Eko-minuut 13:30
BULLETIN 21 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# ‘n Nuwe wêreldwye studie het bevind daar is slegs drie jaar oor om uitstralings ingrypend te verminder en die ergste klimaatsveranderings-gevolge te vermy. Die jongste verslag van die Aanwysers oor Wêreldwye Klimaatsverandering onthul mensgemaakte verwarming het verlede jaar 1,36-grade Celsius bereik – gevaarlik naby die beperking van 1,5-grade van die Paryse Ooreenkoms. Slegs 25 nasies het voor COP30 inligting oor klimaatsplanne verskaf en kenners eis dringende optrede. Wetenskaplikes sê sonder onmiddellike, dapper wêreldwye verbintenisse sal daar binnekort nie meer tyd wees om onomkeerbare klimaatskade te voorkom nie.
# Ten minste 14 mense is dood in vloede en grondstortings na dae van gietende reën in Suid-Korea. Die land se rampbeheerkantoor sê hulle vrees die dodetal kan styg terwyl reddingspogings voortduur, met 12 mense wat as vermis aangegee is. Byna 10-duisend mense is regdeur die streek uit hulle huise ontruim nadat die reën Woensdag begin het, en meer as 41-duisend huishoudings het tydelik hulle kragtoevoer verloor. President Lee Jae-myung het die gebiede wat die ergste getref is, as spesiale rampsones verklaar en die regering het met ‘n multi-agentskap-herwinningsoperasie begin.
# En ten slotte: Egipte word deur ‘n toenemende waterkrisis bedreig weens sy droë klimaat, beperkte waterbronne en snelgroeiende bevolking. Dié land met 114-miljoen mense is hoogs afhanklik van die langste rivier ter wêreld, die Nyl, vir vars water. Professor Thokozani Majozi van die Universiteit van die Witwatersrand sê die stygende vraag na water in Egipte en van gebruikers stroom-op beteken dat die Nyl nie meer voldoende is nie. Majozi sê ontsouting bied ‘n belowende oplossing wat ‘n bestendige voorraad skoon water kan lewer deur sout en onsuiwerhede uit seewater te verwyder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….