Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 April 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku ‘n afsny-laedrukstelsel sal lei tot wydverspreide buie, sterk wind en hewige donderstorms oor groot dele van die land die naweek en vroeg volgende week. Hoofvoorspeller Kevin Rae sê gebiede wat geraak word sluit in die westelike en noordelike binneland. Hy sê tropiese vog uit buurlande kan lei tot verspreide buie, met ‘n gevaar van oorstromings oor die sentrale en oostelike dele:
# Die Nasionale Raad van DBV’s het bevestig aansteeklike pustulêre dermatitis is gediagnoseer onder skape en bokke in die Al Mawashi-voerkraal, vanwaar die diere na Koeweit en Saoedi-Arabië verskeep sal word. Die Midde-Ooste het in die verlede verskepings uit Australië afgewys, waar die siekte aangetref is. Die DBV se woordvoerder, Jacques Peacock, sê die regering het bevestig indien Koeweit en Saoedi-Arabië die verskeping sou afwys, sal Suid-Afrika nie die diere kan terugneem nie:
# En ten slotte: Die burgemeester van ‘n Italiaanse eiland bied aan om die honderde bokke weg te gee wat die gebied oorgeneem het. Riccardo Gullo het op die plan besluit nadat ‘n sensus bevind het daar is ses keer meer bokke op Alicudi as die menslike bevolking van 100. Die eiland is deel van ‘n eilandgroep noord van Sisilië. Volgens die BBC lewe wilde bokke reeds jare lank in die berggebied, maar veroorsaak nou chaos in woongebiede. Hulle verwoes tuine, stamp mure om en stap huise binne.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….