Eko-minuut 13:30
BULLETIN 3 April 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Meer wild- en plantspesies sal beskerm word as gevolg van uitbreidingsplanne by vier van Suid-Afrika se nasionale parke. Die Namaqua Nasionale Park en die Mokala Nasionale Park in die Noord-Kaap, en die Karoo Nasionale Park en Agulhas Nasionale Park in die Wes-Kaap, is gesamentlik met 20-duisend-206 hektaar uitgebrei. Onder die wild- en plantspesies wat danksy die uitbreiding beskerm sal word, is die inheemse kokerboom, die witrenoster en die kameeldoringboom.
# Die Jeppe High School for Boys in Johannesburg samel botteldoppies in om die organisasie sonder winsbejag, Tops and Tags for Wheelchairs, te help. Hulle werk saam met Interwaste vir die omskepping van plastiekafval in fondse vir rolstoele. Leerders het verlede jaar 512 kilogram se botteldoppies ingesamel en vanjaar reeds 148 kilogram bymekaar gemaak. Hulle teiken is 750 kilogram. Die skool se leerlingraad sê die doel van die veldtog is om met die aankoop van rolstoele te help en terselfdertyd die afval by stortingsterreine te verminder.
# En, ‘n voormalige hoof van die Verenigde Nasies se klimaatsagentskap is bekommerd die wêreld se klimaatsdoelstellings sal in gevaar wees as die voormalige Amerikaanse president Donald Trump later vanjaar die verkiesing sou wen. Hy het aangedui hy sal president Joe Biden se Inflasieverminderingswet ophef, uit die Paryse Ooreenkoms onttrek en die ontginning van olie en gas verder aanmoedig. Patricia Espinosa sê Trump se teenkanting teen klimaatsoptrede sal wêreldwyd ‘n groot uitwerking hê. Amerika is die wêreld se naasgrootste vrysteller van kweekhuisgasse en die grootste uitvoerder van olie en gas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….