Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 April 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# SANParke in die Wes-Kaap moedig inwoners aan om enige verdagte bedrywighede aan te meld wat die natuurlewe en beskermde gebiede in die provinsie kan bedreig. ’n Vier-en-veertigjarige man is in verband met beweerde stropery in hegtenis geneem nadat hy by Grootbank wes van Nature’s Valley met 34 kilogram perlemoen betrap is. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê nadat hulle die patrollie bemerk het, het vier duikers uit die see gekom en weggehardloop:
# Pogings om die Clanwilliam-sandvis in die Wes-Kaap van uitwissing te red, werp vrugte af. Bewaringskundiges het die afgelope vier jaar duisende vingerlinge van die unieke visse uit die Biedouw-rivier in die Sederberge gered om in damme van plaaslike grondeienaars te hou om groot te word. Die operasie behels dat die sandvis-vingerlinge versigtig met nette uit die rivier geskep, en in die damme oorgeplaas word.
# En ten slotte: Drie mense is dood en een persoon beseer in ‘n sneeustorting by Riffelberg naby die ski-oord Zermatt in die Switserse Alpe. Die owerhede het die afgelope naweek te midde van swaar sneeuneerslae en kragtige stormwind gewaarsku oor ‘n beduidende gevaar vir sneeustortings in die suidelike Switserse Alpe. Dit is steeds onduidelik hoeveel mense nog vermis word. Volgens die Switserse Instituut vir Sneeu- en Sneeu-navorsing het die land dié seisoen reeds 14 sterftes aangeteken in 12 sneeustortings en ongelukke. Die meerderheid van die slagoffers was langafstand-skiërs.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….