Eko-minuut 13:30
BULLETIN 27 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Lede van die Climate Justice Coalition, insluitend die vakbond Giwusa, kritiseer die Konsep Geïntegreerde Hulpbronplan omdat dit kritieke energie-uitdagings ignoreer. Hulle sê die plan versuim om kwessies soos beurtkrag, energie-tekorte en klimaatsverandering aan te pak. Hulle voer aan die plan se afhanklikheid van steenkool, gas, metaan en kernkrag is onvolhoubaar en strook nie met die land se verpligting om koolstofdioksied-uitstralings te verlaag nie. Ferron Pedro van Giwusa vra ‘n meer inklusiewe en volhoubare benadering tot energiebeplanning:
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se sonkrag-voertuigprojek het internasionale erkenning gekry vir sy bydrae tot hernubare energie en navorsing oor doeltreffende vervoer in die toekoms. Die projek het as deel van ‘n bestaande vennootskap tussen TUT en die Universiteit van Southampton in die Verenigde Koninkryk ʼn toelaag van 1,1-miljoen-rand ontvang. ʼn TUT-dosent, Christiaan Oosthuizen, sê die vorige toelaag wat hulle ontvang het, het bygedra tot die ontwikkeling van die huidige prototipe SunChaser 4-voertuig en die ontwikkeling van die nuwe voertuig wat die eerste sonkrag-aangedrewe elektriese multisitplek-voertuig in Afrika sal wees.
# En, die organisasie sonder winsbejag, Beyond Fossil Fuel, sê Europa se toenemende gebruik van fossielgas versnel klimaatsverandering. Volgens ‘n ontleding wat die organisasie gedoen het, het slegs vier van Europa se gasgedrewe kragstasies ‘n plan vir uitbedryfstelling en nuwe projekte gaan die vasteland se gasopwekkingsvermoë met 27-persent verhoog. Italië, Brittanje en Duitsland het verlede jaar ingestem om hulle kragsektore teen 2035 ten volle of byna heeltemal vry van koolstofuitstralings te maak. Alexandru Mustață van Beyond Fossil Fuel sê regerings moet ‘n duidelike boodskap aan die gasbedryf uitstuur dat sy dae getel is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….