Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 November 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die omgewingsorganisasie WaterCAN sê hy is bekommerd dat die strafregtelike saak teen die brandstofreus, Sasol, gaan voortsleep nadat die saak weereens uitgestel is. Sasol word daarvan beskuldig dat hy water wat met chemikalieë soos vanadium besmet is, in ʼn sytak van die Vaalrivier gestort het. Ferrial Adam van WaterCAN sê hoewel die hofsaak aan die gang is, is daar nie aanspreeklikheid om die besoedeling te staak en op te ruim nie:
# Malawi het sy eerste wild-forensiese laboratorium ingewy, wat ten doel het om die stryd teen wildsmokkelaars te versterk. Die projek, ondersteun deur die TRACE Wildlife Forensics Network in Edinburgh in vennootskap met TRAFFIC, fokus op die nuutste insameling van bewyse en ontledings-tegnieke. Die laboratorium sal opleiding verskaf aan plaaslike wetenskaplikes om vervolgingsvermoë te verbeter. Die direkteur van Malawi se Departement van Nasionale Parke en Wildlewe, Brighton Kumchedwa, sê wildsbokke en ietermagogs verkeer veral in gevaar. Die vennootskap het ten doel om die vermoë in misdaadtoneelondersoeke, bewysbestuur, forensiese ontleding en doeltreffende hofaanbiedings te versterk.
# En ten slotte: Die Verenigde Nasies se jaarlikse Vrystellingsgaping-verslag bevat ‘n skerp waarskuwing dat die wêreld teen die einde van hierdie eeu op koers is vir aardverwarming van drie-grade-Celsius. Die evaluering gaan die Cop28-klimaatberaad vooraf, wat volgende week in Dubai plaasvind. Die verslag beklemtoon dat bestaande beleide oor koolstofbesnoeiing ontoereikend is, wat moontlik tot nog aardverwarming verder as voor-nywerheidsvlakke kan lei, tensy regerings klimaatsoptrede verskerp. Die sekretaris-generaal van die VN, Antonio Guterres, beklemtoon die dreigende risiko van kritieke teikens wat nie omgekeer kan word nie, soos wanneer ysplate smelt.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….