Eko-minuut 13:30
BULLETIN 22 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# ‘n Senior dosent aan die Universiteit van Pretoria, Schalk Grobbelaar, sê navorsing en samewerking in bosbou moet voortgaan om in die toekoms ʼn beter klimaat in Suid-Afrika te verseker. Hy sê vernuwing in bosbou om die klimaatskrisis te hanteer, is noodsaaklik en wys daarop dat vooruitgang in boomgenetika, planttegnieke en produkvervaardiging bydra tot klimaatsbalans. Grobbelaar sê Suid-Afrikaners kan die welvaart van die bosbou-waardeketting verbeter en uiteindelik hoop gee vir ʼn beter klimaatstoekoms vir die hele Afrika.
# Die wêreldwye dienstemaatskappy BDO Suid-Afrika beklemtoon die behoefte vir ondernemings om hul beloftes oor die omgewing en volhoubare groei te versnel. Die maatskappy se uitvoerende hoof, Nato Oosthuizen, sê koolstofvrystellings, energieverbruik en vullishope is die grootste faktore wat tot die klimaatskrisis bydra. Hy sê sakeondernemings se houding oor die omgewing het beduidend verander en baie het na energiebesparende toestelle oorgeskakel en hul afhanklikheid van papier en plastiek beperk. Oosthuizen sê omgewingsvriendelike ondernemings wat mense aanspoor kan die reaksie op die klimaatskrisis hervorm.
# En, om mee af te sluit: Vanjaar se Wêreld-waterdag wil wêreldwyd water gebruik om vrede te bewerkstellig. Die dag beklemtoon die noodsaaklike rol wat vars water in globale bestendigheid en voorspoed speel. Verenigde Nasies Water sê 2,2-miljard mense het nie toegang tot veilige water nie, daarom is vanjaar se fokus op die waterkrisis en om Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit 6 teen 2030 te bereik. Die dag beklemtoon ook die belangrikheid van internasionale samewerking om gedeelde waterbronne te bestuur en watersekerheid vir almal te verseker terwyl die uitwerking van klimaatsverandering toeneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….