Eko-minuut 13:30
BULLETIN 20 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Wêreldnatuurfonds in Suid-Afrika gaan Saterdag ter viering van Aarde-Uur ‘n buitelug-rolprentteater in die Kirstenbosch-nasionale botaniese tuin inrig. Die klassieke tekenprent, Wall-E, sal vertoon word. Aarde-Uur, wat in 2007 in Sidney van stapel gestuur is, is nou die wêreld se grootste omgewingsveldtog op voetsoolvlak wat die kollig op kwessies van klimaatsverandering plaas. Pedzi Gozo van WWF SA sê die sukses van Aarde-Uur was nog altyd sy vermoë om mense aan te spoor en te ondersteun om op te tree en voorstanders van verandering te wees.
# Die Stad Tshwane sê hy ontwikkel tans ‘n kredietproses vir klante wat hul oortollige elektrisiteit op die metro se netwerk wil laai. Inwoners wat opwekkingstelsels aangebring het, soos fotovoltaïese sonkrag- en afval-na-energie-stelsels, energieberging, petroleum-kragopwekkers en tweerigting-elektrisiteitsmeters, is welkom om hulle oortollige elektrisiteit op die netwerk te laai. Die metro moet dit egter goedkeur en slegs geregistreerde klante wat tweerigtingmeters het, sal oorweeg word.
# En, laastens: Die Ingcungcu suikerbekkie-herstelprojek help ‘n endemiese voëlspesie in Kaapstad om na ‘n ou vliegroete terug te keer deur fynbostuine in skole op die Kaapse Vlakte te gebruik. Die ontwrigting van voëlmigrasie en die vernietiging van hulle habitat het talle spesies endemies tot die Kaapse Vlakte op die gevaarlys geplaas. Suikerbekkies kan nie verder as een-en-‘n-half-kilometer vlieg nie. Ceinwen Smith van die projek sê die vestiging van tuine by skole dien as sogenaamde vulstasies vir die voëltjies en help hulle om hulle natuurlike migrasie te voltooi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….