Eko-minuut 13:30
BULLETIN 18 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die energiereguleerder, NERSA, het Eskom se oordrag van magte met Onafhanklike Kragprodusente na die Nasionale Transmissie-maatskappy van Suid-Afrika goedgekeur. Hierdie stap vorm deel van Eskom se ontbondelingsproses en strook met die Departement van Openbare Ondernemings se padkaart vir ‘n hervormde kragvoorsieningsbedryf. Nhlanhla Gumede van NERSA beskou die oorgang van die koper se rol vanaf Eskom na die transmissiemaatskappy as deurslaggewend vir bedryfshervorming en het die betekenis daarvan vir Suid-Afrika se elektrisiteitsektor beklemtoon.
# Die Universiteit van die Witwatersrand sê hy is verbind om ‘n leierskapsrol te speel in ʼn regverdige en billike oorgang na ʼn koolstofvrye ekonomie. Nuwe sonkragbanke is by buitelugmeubels op die Braamfonteinse kampusse geplaas. ʼn Woordvoerder van die universiteit, Chris Ziyambi, sê hierdie vernuwende banke wat met sonpanele toegerus is, is deel van die oorgang na ʼn groen instelling:
# En ten slotte: ’n Vulkaan in Ysland se Reykjanes-skiereiland het die vierde keer sedert Desember uitgebars, en ’n noodtoestand is afgekondig. Ontruiming is in die dorp Grindavik gelas, en kommer heers oor die Svartsengi-kragsentrale, wat elektrisiteit en water aan sowat 30-duisend mense op die skiereiland verskaf. Ysland se Weerkantoor sê die lawa-vloei is nou stadig en bestendig. Ysland het 33 aktiewe vulkaanstelsels, wat die meeste in Europa is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….