Eko-minuut 13:30
BULLETIN 17 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Stadsraad van Tshwane het die wysiging van ‘n munisipale verordening goedgekeur wat die aanhou van bye in stedelike gebiede reguleer. Bye is belangrik vir voedselsekerheid want hulle bestuif die meeste eetbare plante, vrugte en groente in tuine, en ook plante wat die omgewing versier. Die burgemeesterskomiteelid vir Omgewings- en Landboubestuur, Obakeng Ramabodu, sê die verordening is nodig om ‘n balans te tref tussen die aanhou van bye in stedelike gebiede en die gesondheid en veiligheid van inwoners.
# Die Steve Miller Band het alle toerdatums afgestel weens natuurrampe wat deur klimaatsverandering veroorsaak word. Die groep wat bekend is vir liedjies soos The Joker en Fly Like an Eagle, sou van 15 Augustus af 31 vertonings in Amerika hou. Hulle sê die kombinasie van hittegolwe, onvoorspelbare oorstromings, tornado’s, orkane en reuse-veldbrande maak die gevare vir ondersteuners, personeel en die bemanning onaanvaarbaar. Die leier, Steve Miller, sê hy vertrou eerder sy voorgevoel as om mense in gevaar te stel.
# En ten slotte: Teetyd-plesier in China sluit nou drukkies met leeuwelpies in tydens ‘n viergang-middagete in ‘n restaurant in die noorde. Gaste word in aanlyn video’s en foto’s op Chinese kletsplatforms gesien waar hulle welpies soos baba’s op hulle skoot vashou. Die Wanhui-restaurant het in Junie oopgemaak en verkoop sowat 20 kaartjies per dag aan gaste wat drukkies met diere wil geniet as deel van ‘n vaste spyskaart van ongeveer twee-duisend-700-rand. Aanlyn kommentaar is hoofsaaklik krities en sê die onderneming is gevaarlik en nie goed vir die diere nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….