Eko-minuut 13:30
BULLETIN 23 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Twee Oseane-akwarium-stigting se Mariene-natuurlewe-bestuursprogram het twee Kaapse pelsrobbe gered wat in toue en plastiek verstrengel was. Ayanda Cimani, wat verlede jaar 29 suksesvolle reddingspogings uitgevoer het, het saam met Martine Viljoen die reddingsending getakel. Die stigting beklemtoon die behoefte aan ‘n groter bewustheid van marienebesoedeling en sê robbe raak dikwels verstrengel in visvang-gereedskap wat weggegooi word en hulle welsyn kan bedreig.
# Navorsing deur die Sentrum vir Wêreldontwikkeling voorspel klimaatsverandering gaan Afrika se bruto binnelandse produk met 7,1-persent inkort. Die studie, Die maatskaplik-ekonomiese uitwerking van klimaatsverandering in ontwikkelende lande in die volgende dekades, voorspel dat klimaatsverandering 200-miljoen inwoners van Afrika tot ernstige honger sal dryf. Die samesteller van die studie van die Universiteit van die Witwatersrand, Philip Kofi Adomthe, sê die ontwikkelende wêreld sal die gevolge van klimaatsverandering dra, met beduidende ekonomiese verliese teen 2050.
# En, laastens: Natuurrampe kan die Australiese staat Nieu-Suid-Wallis teen 2060 172,5-miljard-rand kos as klimaatsverandering en bevolkingsgroei nie bekamp word nie. Dit is die mening van Nieu-Suid-Wallis se Owerheid vir Heropbou. Die staat het die afgelope jare onder oorstromings, hittegolwe en veldbrande deurgeloop en nou sy heel eerste ramp-bekampingsprogram bekend gestel. Die owerheid sê klimaatsverandering vererger die hewigheid en gereeldheid van natuurrampe en toenemende ontwikkeling in die gebied beteken meer mense word daaraan blootgestel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….