Eko-minuut 13:30
BULLETIN 22 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# ‘n Hiëna het gisteroggend ’n werknemer van die Krugerwildtuin aangeval terwyl sy in die Berg en Dal-woonkwartiere geslaap het. SANParke se woordvoerder, Isaac Mahlangu, sê die vrou se arm is beseer en haar toestand is bestendig. Die hiëna is uitgesit. Dit volg nadat ʼn kameelperd op Valentynsdag ʼn paartjie in die Greenstone-wildlandgoed in Mpumalanga aangeval het toe hulle die middag gaan stap het. Sakkie Dednam sê sy vrou, Yvonne, ly aan geheueverlies nadat sy ernstige hoofbeserings in die voorval opgedoen het.
# Twee wit Bengaalse tiere wat voorheen in ʼn woonbuurt in Boksburg aangehou is, het ʼn nuwe tuiste gevind by ʼn DBV-geakkrediteerde natuurlewe-reservaat in die Vrystaat. Die tiere is in 2021 die eerste keer op ʼn eiendom langs ʼn dagsorgsentrum opgemerk. Die Dierebeskermingsvereniging se nasionale raad sê die tiere se vrylating was indrukwekkend, maar ook hartverskeurend. Die diere het opgewonde na vryheid gespring terwyl hulle die eerste keer ooit gras onder hulle pote gevoel het.
# En laastens, ʼn wees-olifantkalfie met die naam Phabeni is by die olifantrehabilitasie- en ontwikkelingsreservaat by Hoedspruit in Limpopo deur ʼn olifant-ma en haar dogter aangeneem. Phabeni, wat in November gered is toe sy net vier maande oud was, het troos en versorging in die aanneem-trop gevind. Die olifant-ma, Setombe, het Phabeni in die familie verwelkom en die kleintjie selfs laat soog. So is ʼn onverwagse band met die nuwe gesin gevorm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….