Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit sê die brande by Brandvlei en Bainskloof is in bedwang gebring, terwyl die brandlyn in die Matroosberg nog buite beheer woed. Die Brandvlei-brand het gisteraand vinnig versprei en die terrein van die Brandvlei-gevangenis bereik. Die woordvoerder van die munisipaliteit, Anesca Roodt, sê ‘n klein sink-stoorplek is vernietig, maar geen ander eiendom het in die slag gebly nie:
# Die Nasionale Hawe-owerheid het FFS Tank Terminal aangestel om die terminaal vir grootmaat-vloeistof wat in bunkerbrandstof spesialiseer, op ‘n beboude perseel by die Richardsbaaise hawe in KwaZulu-Natal te ontwikkel en te bedryf. Die maatskappy hanteer produkte soos swaar stook-olie, vloeibare petroleumgas, vloeibare aardgas, koolteerbrandstof en diesel-olie. Die konsessie van 25 jaar beteken dat FFS Tank Terminal die terminaal sal oorneem wat Engen voorheen bedryf het.
# En laastens nuus oor die Olimpiese Spele: Weerkenners waarsku Parys kan uitermate hoë temperature verwag tydens vanjaar se Spele. ‘n Studie oor klimaat-nabootsings waarin die ergste scenario’s voorspel word, dui op die risiko van ‘n twee-weke-lange hittegolf wat die rekord warm tydperk sal oortref wat in 2003 in die Franse hoofstad bereik is. Die hoofskrywer, Pascal Yiou, het aan AFP gesê die klimaat het verander en beleidmakers moet bewus wees toestande wat selfs erger is as in 2003 is inderdaad ‘n moontlikheid. Die Spele word in die middel van die Europese somer gehou, van 26 Julie tot 11 Augustus.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….