Eko-minuut 13:30
BULLETIN 15 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die adjunkminister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Narend Singh, sê die sperdatum vir die bereiking van die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte, en die einde van hierdie kritieke dekade vir klimaatoptrede, is slegs vyf jaar weg. Die wêreld skiet egter ver tekort om die doelwitte te bereik. Suid-Afrika is dié week die gasheer van die tweede G20 Omgewings- en Volhoubaarheidswerkgroepvergadering in die Kruger-wildtuin. Singh sê daar is ‘n dringende behoefte om klimaatoptrede te versnel, aangesien armoedvlakke vererger en kweekhuisgasvrystellings verlede jaar rekordhoogtes bereik het.
# Dit het sedert Maart goed gereën in die Namakwa Nasionale Park in die Noord-Kaap en lae temperature is onderbreek deur tye van sonskyn. Dit het dit moontlik gemaak vir die vroeë ontkieming van blomme, veral die gousblom-spesies. SANParke sê blomme het reeds in die Skilpad-gebied begin blom, terwyl gedeeltes van die viertrek-ekoroete, insluitend Wildeperdehoek en Kookfontein, reeds in volle en veelkleurige blom staan. Hy voeg by dat toestande gunstig is vir die blomtydperk tot diep in Augustus en selfs tot in September vanjaar.
# En ten slotte: Duitse doeanebeamptes het op ongeveer een-duisend-500 tarantulas afgekom wat in ‘n besending koekies versteek was. Die besending van sewe-kilogram uit Viëtnam is op die Keulen-Bonn-lughawe onderskep nadat ‘n vreemde reuk opgemerk is. Die giftige spinnekoppe was in plastiekbuise verpak en baie het nie oorleef nie. Die oorblywende spinnekoppe is daarna onder professionele sorg geplaas. ‘n Strafregtelike ondersoek is van stapel gestuur na die persoon wat die besending moes ontvang het vir die versuim om belasting te betaal en na te laat om korrekte verklarings te doen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….