Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Dit is vandag Wêreld-vleilanddag en vanjaar se tema is Vleilande en Menslike Welstand. Dit dui op die onderlinge verbondenheid tussen vleilande en verskeie aspekte van menslike gesondheid. Vleilande bedek slegs ses-persent van die aarde se oppervlak, maar meer as 40-persent van diere- en plantspesies leef en plant voort daarin. Die uitvoerende direkteur van die Verenigde Nasies se omgewingsprogram, Inger Andersen, sê dis belangriker as ooit dat natuur-gegronde oplossings gevind word om vleilande te beskerm, te herstel en volhoubaar te bestuur.
# Die DA sê dis duidelik die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het klaaglik misluk om die Energie-aksieplan in te stel. President Cyril Ramaphosa het die plan in Julie 2022 bekend gestel as die padkaart waarvolgens beurtkrag beëindig en die langtermyn-volhoubaarheid van energievoorsiening in Suid-Afrika bevorder sou word. ‘n DA-woordvoerder, Samantha Graham-Maré, sê Ramokgopa het nie die werking van Eskom se opwekkingsvloot verbeter nie en het toegekyk hoe die energiebeskikbaarheids-faktor vinnig afneem:
# En ten slotte: Besoekers aan Kaapstad kan oor die volgende paar maande weer die uitstalling My Skoon Groen Huis in Groenpuntpark besoek. Die uitstalling is ‘n lewensgrootte huis sonder koolstofvrystellings en is ‘n ope uitnodiging vir mense om ‘n kykie te kry na wat ‘n omgewingsvriendelike leefstyl behels. Die burgemeesterskomiteelid vir Energie, Beverley van Reenen, sê die stad wil as deel van sy klimaatplan teen 2050 koolstof-neutraal wees, terwyl alle nuwe geboue in Kaapstad teen 2030 netto-zero koolstofteikens moet behaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….