Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Januarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die DA vra president Cyril Ramaphosa om in te gryp by die vertragings wat die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling ondervind met die uitrol van entstowwe vir voëlgriep. Die party kritiseer die huidige van-kant-maak–benadering en sê dit het nie daarin geslaag om die uitbreking te beperk nie, maar wel ekonomiese verliese en kommer oor dierewelsyn tot gevolg gehad. Noko Masipa van die DA vra die regering om voorkeur te gee aan die lewensbestaan van pluimveeboere en billike vergoeding, insluitend voedselsekerheid, te verseker:
# Suid-Afrikaanse Nasionale Parke het die SANParke-ereveldwagters geloof vir hulle beduidende bydrae van 80-miljoen-rand tot projekte verlede jaar, wat ‘n aansienlike verskil maak in nasionale parke. Die ere-veldwagters het altesaam 313-duisend uur se diens bygedra tot SANParke, wat gemiddeld 155 uur se diens per lid was. SANParke-ereveldwagters, wat sy 60ste bestaansjaar vier, is ‘n vrywilligersorganisasie wat toeganklik is vir enigiemand met ‘n passie vir die natuur en ‘n behoefte het om dit te ondersteun.
# En ten slotte: Die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls is ontsteld oor die onderwater oefening met plofstof by Boulders-strand by Simonstad, Kaapstad wat volgende Donderdag afgehandel word. Omgewingsaktiviste, insluitende BirdLife SA, is bekommerd oor die marienelewe en die bedreigde Afrika-pikkewyn. Sankub se hoof van Bewaring, Nick Stander, verduidelik hulle is bekommerd oor die invloed van geraas op die pikkewyne en meld die voortgesette navorsing oor bio-akoestiek om die uitwerking van geraas op seevoëls beter te verstaan, onder water sowel as bo die water.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….