Eko-minuut 13:30
BULLETIN 30 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Rooi Kruis sê vroeë aanduidings is dat Orkaan Melissa in die Karibiese Eilande ‘n ramp van ongekende omvang is. Alexander Pendry van die Britse Rooi Kruis sê nuus word ontvang dat hele gemeenskappe onder water is en sterk wind verwoesting gesaai het. Noodspanne mobiliseer reg oor die streek terwyl Melissa sy pad van verwoesting deur Kuba, die Dominikaanse Republiek en Haïti voortsit. Pendry verduidelik die onmiddellike noodsaaklikhede is soek-en-reddingspogings en om te verseker mense het toegang tot gesondheidsorg, veilige skuiling, skoon water, voedsel en ander noodsaaklike voorrade.
Terug in Suid-Afrika:
# Die Departement van Water en Sanitasie sê die Vaaldam is weer vol. Dit het Dinsdag ‘n vlak van 100,88-persent bereik. Gedurende dieselfde tydperk verlede jaar was die vlak net 34,77-persent. Volgens die departement het die goeie reënval in Gauteng en die Vrystaat gesorg dat die dam ‘n bestendige vlak handhaaf. Owerhede sal egter voortgaan om die stelsel te monitor om balans in die opvanggebiede te handhaaf.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad verskerp pogings om lugbesoedeling te bedwing deur toe te slaan op dieselfafskeidings van voertuie. Die stad se Eenheid vir die bestuur van Luggehalte toets daagliks dieselvoertuie langs die pad om te bepaal wat hierdie voertuie se afskeidings aan die luggehalte doen en om bruin-mis te beperk. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê die metro is een van net ‘n paar owerhede in die land wat dieselvoertuie toets:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….