Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Januarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdiens sukkel om ‘n brand onder beheer te bring wat gister in Kluitjieskraal naby Wolseley ontstaan het. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê toestande is gisteraand vererger deur sterk wind, digte rook en moeilik begaanbare terrein. Sy sê pogings is verder bemoeilik omdat baie van die berg- en dienspaadjies die afgelope jaar deur swaar reën beskadig is. Otto sê dit maak dit moeilik om veral in die donker daarlangs te ry. Sy sê die brand beweeg tans in die rigting van die Voëlvleidam naby Gouda:
# Business Leadership South Africa sê die land se infrastruktuur-behoeftes soos elektrisiteit, water en logistiek is duidelike geleenthede vir globale beleggers om die stryd teen klimaatsverandering te steun. Die uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê in haar weeklikse nuusbrief die vinnige pas waarteen Suid-Afrika projekte vir hernubare energie bou wat deur die privaat sektor aangedryf word, is in die wêreld-konteks iets positief. Sy sê die land het ʼn unieke rol in die debat oor klimaatsverandering omdat dit ʼn koolstof-intensiewe ekonomie is. Mavuso sê dis ʼn geleentheid te midde van ʼn globale konteks wat deur risiko’s belemmer word.
# En die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika gaan ‘n rol speel in die openbare verkryging van sewe-duisend-615 megawatt van nuwe elektrisiteitsopwekking en -bergingsvermoë. Hy het tot op hede 12,4-miljard-rand belê in verskeie projekte sedert die bekendstelling van Suid-Afrika se eerste onafhanklike kragprodusente-veilings in 2011. Die staatsbeheerde instelling sê hy sal nou probeer deelneem aan die drie bodrondes wat verlede maand van stapel gestuur is vir hernubare energie, gas tot krag en battery-berging.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….