Eko-minuut 13:30
BULLETIN 14 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Suid-Afrika bied van vandag tot Vrydag die tweede vergadering van die G20-omgewings- en klimaatvolhoubaarheidswerkgroep in die Krugerwildtuin aan. Meer as 250 afgevaardigdes van G20-lande sal bioverskeidenheid, klimaatsverandering, afval en oseaankwessies bespreek. Die minister van die Omgewing, Dion George, sal die Renoster-renaissance-veldtog bekendstel en ‘n boomplantseremonie lei ter bevordering van Suid-Afrika se doelwit om tien-miljoen bome te plant as deel van die Nasionale Vergroeningsprogram. Die geleentheid sluit ook die onthoring van ‘n renoster in. Minister George sê die bevordering van globale samewerking vir omgewingsvolhoubaarheid is noodsaaklik:
# Die Suid-Afrikaanse Sonkragnywerheidsvereniging verwag dat installasies vanjaar sal herstel. Sonkraginstallasies het in 2024/25 met meer as 50-persent gedaal tot sowat een gigawatt vanaf 2,4 gigawatt in 2023/24. Die vereniging is van mening die herstel sal ondersteun word deur hoofsaaklik groot kommersiële en nywerheidsprojekte asook projekte wat ingevolge die regering se Verkrygingsprogram vir Hernubare Kragverskaffing verkry is. Hy voeg by die Suid-Afrikaanse sonkragmark kan op volhoubare wyse tussen 1,5- en 2-gigawatt jaarliks tot die netwerk byvoeg.
# En ten slotte: Dit is vandag Wêreld-sjimpansee-dag en die Verenigde Nasies vereer Jane Goodall vir haar onvermoeide toewyding aan sjimpansees. Goodall het op hierdie dag in 1960 haar navorsing in die Gombe Nasionale Park in Tanzanië begin oor die belangrikheid van dié diere en die dringende behoefte om hulle en hul habitat te beskerm. Die VN sê ontbossing, onwettige jag en die vernietigende uitwerking van onwettige handel in troeteldiere laat die sjimpanseebevolking in die natuur afneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….