Eko-minuut 13:30
BULLETIN 19 September 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Suid-Afrika vier vandag Nasionale Herwinningsdag waarop bewustheid geskep word oor herwinning en vullisvermindering met die fokus op papierprodukte. Suid-Afrika herwin tans 46-persent plastiek wat hoër is as die meeste lande. Sewentig-persent papier, 72-persent koeldrankblikkies/metaal en 42-persent glas word herwin. Dit is Saterdag Wêreld-skoonmaakdag, waarop miljoene vrywilligers uit 190 lande teen plastiekafval en besoedeling sal veg.
# Eskom sê hy neem kennis van die Appèlhof se uitspraak wat die omgewingsgoedkeuring vir die voorgestelde gekombineerdesiklus-gaskragaanleg van drie-duisend megawatt in Richardsbaai, KwaZulu-Natal, tersydestel. Die hof het bevind daar was onvoldoende openbare deelname en daar is nie met kwesbare gemeenskappe beraadslaag nie. Hy voer ook aan ander hernubare energiebronne of kumulatiewe omgewingsgevolge is nie oorweeg nie. Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hulle bestudeer die uitspraak en oorweeg hul volgende stappe:
# En, klimaatsverandering veroorsaak toenemend wêreldwye wisselvallige en uiterste veranderings tussen vloede en droogtes, met ‘n stortvloed van uitwerkings op samelewings. Die VN se Wêreld Meteorologiese Organisasie het in ‘n verslag gesê die wêreld se watersiklus word al hoe meer onvoorspelbaar, met gletsers wat krimp, droogtes, ongebalanseerde rivierkomme en ernstige vloede wat verwoesting saai. Die agentskap se jaarverslag oor die stand van globale waterbronne toon baie duidelik hoe die watersiklus toenemend wisselvallig word, met ‘n uitwerking op infrastruktuur, landbou, energie, gesondheid en ekonomiese bedrywighede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….