Eko-minuut 13:30
BULLETIN 8 September 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die adjunkminister van Elektrisiteit en Energie, Samantha Graham-Maré, sê die skepping van Eskom Green sal ‘n nuwe hoofstuk in Suid-Afrika se elektrisiteitsverhaal inlui. Eskom Green sal een van die vier ontbondelde instellings wees onder die kragvoorsiener se houermaatskappy, met die mandaat om die dryfveer te wees vir die berging van hernubare energie en groen waterstof. Eskom wil sy portefeulje van hernubare energie uitbrei en hoop dat skoonenergie-projekte teen 2030 ongeveer 5,90-gigawatt sal lewer. Graham-Maré sê Eskom Green sal die land posisioneer vir ‘n skoner, mededingender toekoms.
# ‘n Navorser aan die Universiteit van Pretoria, Hanlie Smuts, sê die koste van die berging van die wêreld se toenemende donker data – data wat gebêre maar nooit gebruik word nie – laat ‘n beduidende koolstofvoetspoor. Datasentrums is wêreldwyd die oorsaak van sowat twee-persent van koolstof- of kweekhuisgas-vrystellings, wat na verwagting teen 2030 sal verdubbel namate digitale gebruik toeneem. Smuts sê sy het ‘n maatskaplik-tegniese raamwerk en riglyn vir mense in die bedryf te ontwikkel om die bestuur van donker data te bemeester en kan bydra tot digitale ontkoling.
# En die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir hewige donderstorms met swaar reën in groot dele van Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal, wat tot oorstromings van paaie en nedersettings kan lei. Inwoners in laagliggende gebiede word aangeraai om bykomende voorsorgmaatreëls te tref. Die Weerdiens sê die donderstorms kan lewensgevaarlik wees omdat die oorstromings infrastruktuur kan beskadig of vernietig en ontwrigting op paaie kan veroorsaak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….