Eko-minuut 13:30
BULLETIN 5 September 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Departement van Water en Sanitasie sê met die aanvang van die lente en vroeë somer kan die oostelike en suid-oostelike streke bo-gemiddelde reënval verwag. Volgens voorspellings sal die Vaal- en Bloemhofdam minstens 100-persent vol wees. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê terwyl die verwagte reën vroeg in die seisoen tydelike verligting kan bring, sal damme in die oostelike en suid-oostelike streke nie veel baat nie weens voortslepende middelmatige droogtetoestande:
# PepsiCo South Africa en Polyco het ‘n vennootskap gevorm om vroulike herwinners in Pinetown, KwaZulu-Natal, te borg deur die Dignity Foundation en die Supa Mama Women in Recycling-inisiatief. Dit bied finansiële ondersteuning en hulpmiddels soos herwinningstrollies en waardigheidpakkies om die omstandighede waaronder hulle werk te verbeter en moontlike inkomste vir die vroue te verseker. Chantal Philander van Polyco sê met ‘n gesamentlike belegging van meer as 387-duisend-rand het die borgskap 40 spesiaal ontwerpte trollies afgelewer:
# En laastens: ‘n Studie gelei deur die Walter Sisulu Universiteit het ontdek die byvoeging van groen Rooibos-ekstrak by kurperkos, verbeter die groei van visgetalle en voedingdoeltreffendheid aansienlik. Die proefneming het kommersiële viskos vergelyk met voeding wat met gegiste Rooibos van die bekende rooi of ongegiste groen Rooibos-ekstrak aangevul is. Die studieleier, professor Grace Okuthe, sê die resultaat het gewys kurpers wat met die groen Rooibos gevoer is, het sowat 2,83-persent vinniger gegroei en omsetting van kos na liggaamsgewig was 0,9-persent meer effektief as in die kontrolegroep:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….