Eko-minuut 13:30
BULLETIN 2 September 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing sê regverdigheid en deursigtigheid is ononderhandelbaar in die toekenning van visvangregte. Die departement het permitte om klein diepseevisse soos ansjovis en sardyne te vang, tot 3 Oktober verleng. Dit is genoodsaak hangende die hofuitspraak oor die afhandeling van appèlaansoeke in die 2021/22-visvangregte-toekenningsproses vir die klein pelagiese sektor. Minister Dion George sê hulle moet alle regsake oplos voor hulle besluite neem wat die houers van regte en die sektor se volhoubaarheid raak.
# SANParke sê die hangbrug by die Stormsriviermond-ruskamp in die Tsitsikamma-gedeelte van die Tuinroete Nasionale Park is tydelik gesluit tot 15 September. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê besoekers kan steeds die wye reeks bedrywighede geniet wat by Stormsriviermond beskikbaar is, insluitend die Waterval- en Otterroetes, kajakvaart en voëlkyk:
# En laastens: die Verenigde Koninkryk het volgens die Weerkantoor vanjaar sy warmste somer ooit beleef en moes deur vier hittegolwe worstel. Brittanje het in Junie, Julie en Augustus ‘n gemiddelde temperatuur van 16,1-grade Celsius beleef wat meer is as 2018 se rekord van 15,76-grade Celsius. Mark McCarthy van die Weerkantoor sê hierdie rekord-somertemperature kan 70-keer meer waarskynlik toegeskryf word aan mensgemaakte klimaatsverandering. Hy sê die Verenigde Koninkryk kan in die nabye toekoms nog warmer somers verwag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….