Eko-minuut 13:30
BULLETIN 29 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in die Suid-Kaap het ‘n splinternuwe platform geskep om indringerplante uit te roei. Die platform het ʼn waagmoedige, voorlopige visie om 30-persent van die indringerplante op die Tuinroete teen 2030 uit te wis. Dit sal die bewaring van bioverskeidenheid, watersekerheid en vermindering van veldbrande ondersteun. Burgemeester Andrew Stroebel sê indringerplante het meer aggressief toegeneem, wat die gevaar van veldbrande verhoog:
# ‘n Organisasie wat verbruikersverantwoordelikheid aanmoedig, Petco, span saam met die kunstenaar van die Kaapse Vlakte, DJ Ready D, en die Groot Kaapse Ambassadeur-projek om ʼn prettige en opvoedkundige herwinningskompetisie bekend te stel. Skole in Mitchells Plain gaan die volgende drie maande so veel as moontlik plastiekbottels en flesse, en verpakkingskarton bymekaarmaak. Die skool wat die meeste versamel, wen ʼn kontantprys van 50-duisend-rand. DJ Ready D sê die kompetisie wil mense leer dat herwinning nie vervelig hoef te wees nie.
# En ten slotte: Klimaatverandering kan minstens 5,9-miljoen kinders en jong mense in Latyns-Amerika en die Karibiese Eilande in armoede dompel as regerings nie nou optree nie. Die getal kan tot 17,9-miljoen styg as lande hulle nie daartoe verbind om die vrystelling van kweekhuisgasse te verminder nie. Dis volgens ‘n verslag van die Verenigde Nasies se Ekonomiese Kommissie vir Latyns-Amerika en die Karibiese Eilande en die VN se Kinderfonds. Volgens UNICEF moet lande ook ‘n meer kindervriendelike klimaatbeleid finansier wat spesifiek aandag gee aan die behoeftes van kinders.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….