Eko-minuut 13:30
BULLETIN 28 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die hervestiging van olifante uit dieretuine in Pretoria en Johannesburg het gelei tot vurige debatte en verskeie versoekskrifte oor toegang tot wilde diere en bewaring in Suid-Afrika. Dit volg nadat die laaste olifantbul in die Pretoriase Dieretuin, Charley, verskuif is na die privaat wildreservaat Shambala in Limpopo. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Bioverskeidenheid het dit as welstandsmaatreël goedgekeur. Kritici voer aan die verskuiwing neem erfenis na ‘n bevooorregte gebied met beperkte toegang vir werkersklas-gemeenskappe.
# CapeNature sê hy bevorder gebruike om inheemse visse te vang en terug te gooi, en indringer-visspesies te verwyder as ‘n praktiese manier waarop hengelaars tot bewaring kan bydra. Tans word 24 van die Wes-Kaap se 35 varswater-visspesies as bedreig beskou en 73-persent van die provinsie se varswatervisse word nêrens elders in die wêreld aangetref nie. CapeNature se uitvoerende hoof, Ashley Naidoo, sê deur verantwoordelik te vang en terug te gooi, of soms indringervisse te vang en te verwyder, dra by om die varswaterstelsels se bioverskeidenheid te bewaar.
# En ten slotte: Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging het die Europese Unie versoek om sy beplande instelling van ‘n omvattende heffing op koolstof-intensiewe invoerprodukte te heroorweeg. Die EU se koolstof-aanpassingsmeganisme is ontwerp om vrystellings te verminder en seker te maak dieselfde bykomende belasting word op invoere gehef as op plaaslik-vervaardigde produkte wat baie koolstof vrystel. Die departement sê dit kan Suid-Afrika en ander ontwikkelende lande se pogings kniehalter om klimaatsverandering te beveg. Afrika is die wêreld se 14de grootste bron van kweekhuisgasse.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….