Eko-minuut 13:30
BULLETIN 25 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê die nuwe regulasies om skip-tot-skip-brandstofoordrag in Suid-Afrikaanse gebiedswater te beheer, is ‘n belangrike stap om die oseane te beskerm. Die regulasies stel ʼn risiko-gebaseerde stelsel bekend om skade te voorkom wat brandstof-oordrag ter see kan veroorsaak. George sê nie-nakoming kan tot swaar strawwe lei, insluitend boetes van tot twee-miljoen-rand of vyf-jaar-tronkstraf, of albei.
# Die Wêreldnatuurfonds in Suid-Afrika sê volhoubare ontwikkeling van ʼn oorgangs-mineraalbedryf is belangrik terwyl Suid-Afrika gereed maak om later vanjaar die G20-beraad aan te bied. Die Wêreldbank beraam daar sal teen 2050 ʼn 500-persent toename wees in die vraag na minerale soos grafiet en litium vir die wêreldwye oorgang na ʼn nuwe energie-orde. WWF SA sê die wedloop is aan die gang om die minerale beskikbaar te hê wat nodig is vir die oorgang van fossielbrandstof na ʼn lae koolstof-toekoms.
# En Spanje se meteorologiese agentskap sê die hittegolf van 16 dae wat die land hierdie maand geteister het, was die ergste op rekord. Die hittegolf het meer as ʼn duisend lewens geëis en veldbrande veroorsaak wat steeds in die noordelike en westelike dele van die land woed. Die agentskap sê voorlopige syfers wat van drie tot 18 Augustus aangeteken is, toon die gemiddelde temperatuur was gemiddeld 4,6-grade Celsius hoër as vorige hittegolf-rekords. Volgens wetenskaplikes veroorsaak die klimaatskrisis wêreldwyd langer, warmer en meer gereelde hittegolwe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….