Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Januarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Kibo Energy wat in Ierland gebaseer is, sê hy het voorwaardelik voorlopige goedkeuring gekry vir ontwikkelingsbefondsing vir ‘n afval-tot-energieprojek in Suid-Afrika. Een van die maatskappy se skemas is die ontwikkeling van Sustineri Energy se projek vir plastiek-afval tot sintetiese olie in Gauteng in vennootskap met Industrial Energy Solutions. Die eerste fase bestaan uit die produksie van 2,7-megawatt plastiek-tot-singas en is in ʼn gevorderde projek-ontwikkelingstadium. Die uitvoerende hoof, Louis Coetzee, sê Kibo Energy het in Suider-Afrika, die Verenigde Koninkryk en Ierland vordering gemaak met die lewering van energie-opwekking met lae tot geen koolstofvrystelling.
# Die eerste teenstropingseenheid in Zambië wat uit vroue bestaan, Conservation Lower Zambezi, help aktief met die beskerming van bedreigde wildspesies. Hulle werk saam met die Departement van Nasionale Parke en Natuurlewe om stroping en ander onwettige bedrywighede te verhoed. Woordvoerder Peter Longwe sê hulle werk met plaaslike gemeenskappe saam om oplossings te vind vir die konflik tussen mense en die natuur, veral in gebiede aangrensend aan die park waar hulle bestaansboerdery beoefen. Longwe sê die eenheid verteenwoordig ‘n beduidende stap om vroue te bemagtig ten opsigte van bewaring.
# En ten slotte: Wetenskaplikes sê mensgemaakte klimaatsverandering vererger uiterste weerstoestande wat tot meer en sterker siklone lei. Die tropiese storm Belal het onlangs aansienlike oorstromings in Mauritius veroorsaak wat regeringsingryping genoodsaak het. Klimaatswetenskaplikes beklemtoon die verband tussen aardverwarming en die verhoogde intensiteit van siklone in die streek. Die World Weather Attribution-groep sê klimaatsverandering versterk die moontlikheid en hoeveelheid reën wat met tropiese storms en siklone verband hou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….