Eko-minuut 13:30
BULLETIN 21 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Suider-Afrika het die potensiaal om ‘n florerende natuurlewe-ekonomie te ontwikkel wat regstreeks tot mense se lewensbestaan bydra terwyl bioverskeidenheid beskerm word. Dit is volgens die adjunkminister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Narend Singh. Hy sê wat nodig is, is die kartering en monitering van die gereeldheid en ligging van konflikvoorvalle tussen mens en natuurlewe as ‘n gids vir geteikende ingrypings. Singh sê die vestiging van vroeë waarskuwingstelsels is ook nodig wat tegnologie met plaaslike patrollies kombineer en toerisme- en bioverskeidenheids-voordele op regverdige wyse deel.
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n rooi brandgevaar-waarskuwing uitgereik vir uiters gevaarlike veldbrandtoestande in Limpopo, Gauteng en Mpumalanga. Baie warm, droë en winderige toestande kan lei tot die ontwikkeling van weghol- en veld- of bosbrande en bestaande brande aanvuur. ‘n Woordvoerder van Tshwane se Nooddienste, Lindsay Zwelithini, sê die toestande sal na verwagting tot môre om middernag voortduur:
# En die Stad Kaapstad se Direktoraat vir Stedelike Afvalbestuur het die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie geprys oor sy instelling van ‘n beleid van zero-afval in die hoër onderwyssektor. Die universiteit het verlede jaar ‘n drieledige sorteerstelsel op al sy kampusse ingestel en Kaapstad se eerste zero-afval-universiteit geword. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Afvalbestuur, Grant Twigg, sê klein stappe soos dié, van die skeiding van herwinbare materiale tot die weiering van enkelgebruik-plastiek, dra by tot ‘n skoner, meer volhoubare Kaapstad:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….