Eko-minuut 13:30
BULLETIN 20 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê die oopvlek van ‘n groot oorgrens-renosterhoring-smokkelnetwerk is ‘n beslissende oorwinning. Ses vermeende lede van ‘n sindikaat gekoppel aan ‘n bedrieglike skema waarby 964 renosterhorings ter waarde van miljoene rand betrokke is, is aangekeer. Die horings was bestem vir onwettige markte in Suidoos-Asië. George sê die verdagtes het die departement bedrieg deur permitte onder vals voorwendsels te bekom en die horings na onwettige internasionale markte te kanaliseer:
# Die vinnigste en mees gevreesde slang in Afrika, die swart mamba, kan ‘n sleutelrol speel om besoedeling op te spoor en terselfdertyd die ekostelsel gesond hou. Dis bevind in nuwe navorsing aan die Universiteit van die Witwatersrand. Die studie is gedoen met slange wat in Durban gevang is. Daar is bevind dat swaar metale soos lood, arseen, kadmium en kwik in die skubbe van swart mambas versamel. Die leier van die navorsingspan, professor Marc Humphries, sê hulle het ‘n duidelike verbintenis tussen grondgebruik en die blootstelling aan swaar metale in die slange gevind.
# En ten slotte: Vandag is Wêreldmuskietdag waartydens bewustheid geskep word oor die gevare wat muskiet-oordraagbare siektes inhou. Vanjaar se tema is “Versnelling van die stryd teen malaria vir ‘n billiker wêreld”. Muskiet-oordraagbare siektes maak jaarliks meer as ‘n miljoen mense dood en besmet tot 700-miljoen. ‘n Dosent aan die Universiteit van Pretoria, die mediese entomoloog Ashley Burke, sê entstowwe en medisyne is noodsaaklik, maar daar is nie entstowwe teen talle siektes wat deur lewende organismes oorgedra word nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….