Eko-minuut 13:30
BULLETIN 8 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, het nuwe konsepregulasies in die Staatskoerant gepubliseer om skip-tot-skip-oordragbedrywighede na die buiteland te bestuur. Die regulasies fokus op die beskerming van die bedreigde Afrika-pikkewyn, en is nou oop vir openbare kommentaar. Dit het verder ten doel om risiko’s van maritieme bedrywighede te verminder, veral in gebiede soos Algoabaai in die Oos-Kaap. George sê die oorlewing van die Afrika-pikkewyn is ononderhandelbaar en vra landsburgers om sy beskermingspogings te ondersteun en terselfdertyd volhoubare ekonomiese groei moontlik te maak.
# Suid-Afrika se nasionale voël, die bloukraanvoël, is herklassifiseer as kwesbaar weens ‘n beduidende afname in sy getalle, veral in die Wes-Kaapse Overberg-gebied waar dit die afgelope 15 jaar met 44-persent gedaal het. Die getalle daal ook in die semi-woestynstreek van die Karoo, waar die meeste van die land se bloukraanvoëls voorkom. ‘n Bewaringswetenskaplike van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe, Christie Criag sê die afname word gekoppel aan klimaatsverandering, en noem hitteverwante redes vir onsuksesvolle broeigewoontes. Hy sê bloukraanvoëls word ook deur kraglyne, masjinerie en landbou-chemikalieë bedreig.
# En ten slotte: Die Europese Kommissie het ‘n Padkaart tot Natuurkrediete bekendgestel. Dis bedoel om privaat beleggers aan te spoor tot optrede wat die natuur beskerm en bewaar, en erkenning te gee aan diegene wat dit doen en daarin belê. Die kommissie sê natuurkrediete sal bestaande openbare befondsing vir bioverskeidenheid aanvul. Hy beklemtoon klimaatrisiko’s veroorsaak groter versekeringskoste en kan in die volgende dekade tot sewe-persent van sake-ondernemings se jaarlikse wins beloop as hulle nie aanpas en natuurbewaring ondersteun nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….