Eko-minuut 13:30
BULLETIN 18 Junie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# ‘n Mylpaalsaak om olifante uit die Johannesburgse Dieretuin te bevry, het internasionale ondersteuning gekry. Die saak is gegrond op die veronderstelling dat die diere se aanhouding die Grondwet oortree, in besonder wat omgewingsregte betref. Regslui aan die Harvard-regsfakulteit in Amerika het as vriende van die hof by die saak aangesluit. Hulle stem saam dat die inperking van die drie olifante, Lammie, Mopane en Ramadiba, hulle geestelike, emosionele en fisiese welstand aantas. Die dieretuin sê die diere ontvang voldoende sorg en aandag.
# Dis vandag Internasionale Piekniekdag en die ideale dag om ʼn piekniekmandjie te pak en saam met familie of vriende in die buitelug te eet. Hoewel daar geen rekord is oor die oorsprong van die dag nie, het dit vermoedelik teen die einde van die Franse Revolusie en die Victoriaanse tydperk ontstaan. Volgens die Guinness Book of World Records, is die wêreld se grootste piekniek op 20 Junie 2009 in Lissabon, Portugal, gehou. Meer as 22-duisend mense het dit bygewoon.
# En ten slotte: Banke het in 2024, die warmste jaar ooit wat aangeteken is, sowat 15,9-duisend-miljard-rand se fossielbrandstowwe gefinansier. Dit is ‘n skerp styging van die vorige jaar. Volgens die Banking on Climate Chaos-verslag wat die wêreld se top 65 banke dek, het fossielbrandstof-finansiering sedert 2016 se Paryse Ooreenkoms 126-duisend-miljard-rand gehaal. JP Morgan Chase is die wêreld se grootste fossielbrandstof-finansierder. Kritici sê banke het afstand gedoen van klimaatbeloftes, met sommige wat aan netto-zero-ooreenkomste onttrek. Aktiviste waarsku dat bindende regulasies die enigste manier is om die neiging te stop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….