Eko-minuut 13:30
BULLETIN 4 Junie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Onderwys- en Opleidingsowerheid vir Chemiese Nywerhede, CHIETA, sê groen waterstof is ‘n weg na ekonomiese vernuwing en klimaatsweerstandigheid, en met die regte vaardighede kan Suid-Afrika die pad aanwys. Die Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe het drie nuwe Nasionale Kwalifikasieraamwerk Vlak 4 groenwaterstof-vaardigheidsprogramme goedgekeur. Dit is groenwaterstof-vervaardiging, groenwaterstof-berging en -oordrag, en groenwaterstof-tegnologie. CHIETA se hoof, Yershen Pillay, sê groen waterstof kan inklusiewe nywerheidsgroei aandryf, ontkoling ondersteun en volhoubaarheid bevorder.
# Die Global Environment Facility het befondsing aangekondig vir drie nuwe projekte onder leiding van die VN-omgewingsprogram. Dit is die globale ondersteuningsprogram vir klimaatdeursigtigheid, die wêreldwye uitskakeling van kwik in die produksie van nie-ysterhoudende metale in Suid-Afrika, en die uitskakeling van kwik in vel-bleikmiddels in Afrika. Die drie projekte wil praktiese oplossings bied vir ernstige omgewingskwessies, soos die bekamping van besoedeling en bevordering van klimaatdeursigtigheid. Die projekte sal na verwagting saam sowat agt-miljoen mense wêreldwyd baat.
# Die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, het die voortgesette onwettige ontginning van sand in die Soutpanspruitrivier in Soshanguve veroordeel. Sy sê mense aan die rivieroewer verkoop die sand teen 400-rand per vrag. Afgesien van gronderosie en die beskadiging van die natuurlike omgewing, lei dit ook tot die verlaging van die watervlak en swakker gehalte van water en die waterverskaffing. Moya sê ‘n spesiale permit is nodig vir die ontginning van sand:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….