Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Januarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Nuwe navorsing deur die Internasionale Regsafdeling aan die Universiteit van Reading onthul dat die Israelse Weermag se optrede in Gaza chemikalieë van wit fosforwapens laat agterbly het, wat ‘n langtermyn omgewingsbedreiging inhou. Volgens ʼn woordvoerder van die universiteit, Saeed Bagheri, kan hierdie chemikalieë vir jare in die grond agterbly en ʼn nadelige uitwerking op gewasproduksie hê. Bagheri waarsku oor verwoestende gevolge vir boere en hulle gemeenskappe, en benadruk die dringende behoefte aan aandag en remediërende maatreëls om die besoedeling teen te werk en die moontlike langtermyn gevolge te versag.
# Klimaatsverandering bedreig lietsjie-produksie in Suid-Afrika. Volgens die Landbounavorsingsraad het ongekende storms en hittegolwe boere beïnvloed, wat gesprekke op die tweede jaarlikse Lietsjie-kultivardag uitgelok het. Oplossings vir sektor-uitdagings is ondersoek, met die klem op landbouverwerking en die ontwikkeling van nuwe kultivars vir uitgebreide produkbeskikbaarheid. Ten spyte van uitdagings oor klimaatsverandering, bly die raad daartoe verbind om lietsjies van hoë gehalte te produseer. Die geleentheid het ingevoerde kultivars en lietsjie-gebaseerde produkte ten toon gestel, met die doel om boere toe te rus met nuwe vaardighede vir doeltreffende plaasbestuur.
# En laastens: ‘n Verslag deur die Internasionale Energie-agentskap toon 50-persent meer hernubare vermoë is verlede jaar wêreldwyd aangebring as in 2022. Altesaam 507 gigawatt hernubare energie-vermoë is in 2023 geïnstalleer, wat die basis tot ongeveer drie-duisend-600 megawatt verhoog het, waarvan fotovoltaïese sonkrag driekwart van die wêreldwye toevoegings beslaan. China het verlede jaar net soveel fotovoltaïese sonkrag in gebruik geneem as wat die hele wêreld die vorige jaar gedoen het. Die agentskap voorspel dat globale hernubare vermoë oor die vyf jaar tot einde 2028 tot sewe-duisend-300 gigawatt sal toeneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….