Eko-minuut 13:30
BULLETIN 2 Junie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# CapeNature se HeliHack-span het verlede maand meer as 15-duisend indringerdennebome van die steil hellings van die Boosmansbos-wildernisgebied verwyder. Die reusebewaringspoging het drie dae geduur, een-duisend-en-80 hektaar grond herstel en watersekerheid vir ongeveer 15-duisend inwoners in die Suid-Kaap verbeter. Die projek het ook gelei tot die herontdekking van die Boosmansbos-langstertbosspitsmuis, wat 46 jaar lank nie gesien is nie. Die uitvoerende hoof van CapeNature, Ashley Naidoo, het die inisiatief as ‘n voorbeeld van samewerkende bewaring geloof.
# Baanbrekerswerk deur navorsers van die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Kopenhagen, het van die oudste menslike genetiese data opgelewer wat ooit uit Afrika herwin is. Hulle het antieke proteïene gebruik om biologiese geslag en verborge genetiese variasie in Paranthropus robustus, ‘n uitgestorwe neef van die moderne mens – te ontbloot. Hulle het twee-miljoen jaar oue proteïenspore ontleed wat uit gefossileerde tande kom wat in Suid-Afrika se Wieg van die Mensdom opgegrawe is. Ioannis Patramanis van die Universiteit van Kopenhagen sê die onthulling dwing hulle om die identifisering van antieke hominienspesies te heroorweeg.
# Die langtermyn klimaats-uitwerking van die vernietiging, opruiming en herbouing van Gaza kan meer wees as 31-miljoen ton koolstofdioksied, wat gelykstaande is as die gesamentlike jaarlikse kweekhuisgasse van Costa Rica en Estland in 2023. Dit is volgens die Social Science Research Network se nuwe studie. Die studie toon byna 30-persent van die kweekhuisgasse wat tussen die Hamas-aanval op 7 Oktober 2023 en die tydelike wapenstilstand in Januarie 2025 gegenereer is, was afkomstig van die VSA, met die 50-duisend ton wapens en ander militêre voorraad wat na Israel gestuur is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….