Eko-minuut 13:30
BULLETIN 29 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Kaapstad is negende geplaas in Time Out se wêreldwye opname van stede met die beste toegang tot die natuur en groen ruimtes. Die metro is saam met Abu Dhabi, bekend vir sy 200 parke en strande, en Chicago wat met meer as 600 parke spog en bekend is vir sy toewyding aan groen stedelike ruimtes. Die opname, gegrond op meer as 18-duisend-500 stemme, beklemtoon Kaapstad se stadslewe en buitelug-skoonheid. Inwoners en besoekers sê hulle geniet plekke soos die Kompanjiestuine en Tafelberg.
# Wêreldleiers van Suid-Afrika, Brasilië en die Verenigde State is in Kaapstad saam met verteenwoordigers van die Afrika-unie en Europa om wêreldwye volhoubaarheid te bespreek. Die F20-Forum vir Klimaatoplossings word in Kirstenbosch aangebied en plaas klem op bestuur, klimaatsfinansiering en ‘n billike energie-oordrag. Die konferensie het ten doel om vertroue te bou en inklusiewe klimaatoptrede te bevorder deur internasionale samewerking en beleidsvorming oor volhoubaarheid en energie-hervorming.
# En ten slotte: Die vleis van bruinbere, ‘n beskermde spesie in die Europese Unie, mag dalk binnekort in Slowakye verkoop word nadat die populistiese regering nuwe planne goedgekeur het. Die kabinet het verlede maand ‘n plan goedgekeur om sowat ‘n kwart van die land se een-duisend-300 bruinbere te skiet weens noodlottige voorvalle. Bewaringsbewustes, opposisie-politici, asook die Europese Parlement het dit skerp gekritiseer. Die Slowaakse regering gaan egter voort met die plan en het hierdie week aangekondig die vleis van bere wat uitgeskiet word sal verkoop word om vermorsing te voorkom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….