Eko-minuut 13:30
BULLETIN 26 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie beplan om die land se heel eerste kernreaktorprojek wat in 2010 gestaak is, te laat herleef en Eskom se kuratorskap oor te neem. Volgens News24 wil Necsa die modulêre korrelbedreaktor gebruik om kernbrandstof en kernkrag te vervaardig. Necsa se uitvoerende hoof, Sengiphile Simelane, sê hulle sal die kernbrandstof by die Pelindaba-aanleg in Noordwes vervaardig wat weer in bedryf gestel moet word. Hy sê die aanleg sal ook ‘n bedryfslisensie by die Nasionale Kernreguleerder moet kry.
# SANParke se bioverskeidenheids-verrekeningsbank word geloof as ʼn belangrike instrument in die land se volhoubare groei. Die doel is om beskermde gebiede uit te brei en terselfdertyd ontwikkelaars in staat te stel om hul omgewings-, maatskaplike en bestuursdoelwitte te bereik. Die banke word bedryf deur bewarings- en opknappingsprojekte te skep. Ontwikkelaars kan bioverskeidenheids-krediete koop om te vergoed vir die onvermydelike uitwerking van ontwikkelingsprojekte. Nokuthula Mhene van die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram sê die beskerming van bioverskeidenheid dra regstreeks by tot nasionale voorspoed
# En ten slotte: Die kragvoorsiener North American Electric Reliability Corporation waarsku dat Noord-Amerika dié somer kragonderbrekings kan ondervind. Faktore wat daartoe bydra sluit in die toenemende vraag na elektrisiteit, sektore wat oorspronklik deur fossielbrandstowwe aangedryf is en nou na elektrisiteit oorskakel, asook die wydverspreide ingebruikneming van elektriese voertuie en hittepompe. Die Midde-weste, Texas, Nieu-Engeland en dele van Kanada loop die grootste gevaar. Kenners sê reuse-beleggings is nodig om hernubare energie betroubaar en meer wydverspreid te maak om die tekort aan fossielbrandstowwe te dek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….