Eko-minuut 13:30
BULLETIN 23 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Prins William het in samewerking met United for Wildlife ‘n nuwe baanbreker dokumentêre reeks getiteld Guardians bekendgestel. Die dokumentêr oor ses episodes bied ‘n seldsame blik op die gevaarlike werk van wildbewaarders wat wêreldwyd aan die voorpunt van bewaring staan. Die reeks volg stories van bewaarders wat werk in die Kruger-wildtuin in Suid-Afrika, die Sentraal-Afrikaanse Republiek, die Indiese Himalajas, die See van Cortez in Mexiko, Sri Lanka en die inheemse gebied Caru in Brasilië. Ongeveer een-duisend-400 bewaarders het die afgelope dekade gesterf.
# Klimaatverandering is naas ooruitbuiting en habitat verswakking die derde-grootste bedreiging vir die aarde se natuurlewe. Dis volgens ‘n nuwe studie wat in die joernaal BioScience, gepubliseer is nadat meer as 70-duisend spesies wilde diere ontleed is. Klimaatverandering bedreig sowat vyf-persent van die spesies wat ontleed is. Daar is gevind dat klimaatverandering toenemend ongewerwelde seediere, soos weekdiere, seesterre, koraal en die koningkrap, negatief raak, deels weens aardverwarming.
# En die Wits-universiteit se Klimaatsrisiko-modelleringsprojek het ‘n toelaag van die Bezos Earth Fund se AI Grand Challenge for Climate and Nature ontvang. Die fase een-toelaag van sowat 925-duisend-rand sal die grensverskuiwende projek lei wat daarop gemik is om weervoorspelling reg oor Afrika te hervorm. Die projek is gekies vir sy moontlikhede om ʼn groot klimaat- en ontwikkelingsprobleem in Afrika te hanteer, en die gebrek aan betroubare inligting oor die weer en voorspellingsinfrastruktuur uit die weg te ruim. Dis veral noodsaaklik in landelike en afgeleë gebiede waar landboubedrywighede van reën afhanklik is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….